Screen Size

STUDIENUUS

3 FAMILIE-LEEFSTYL VERANDERINGE WAT JOU KIND SAL HELP BY DIE SKOOL

May 24, 2018
3 FAMILIE-LEEFSTYL VERANDERINGE WAT JOU KIND SAL HELP BY DIE SKOOL

Ons is al kniediep in die tweede kwartaal en 2018 lyk nie juis lus om enigsins stoom te verloor nie. Die lewe met skoolgaande kinders kan nogal besig raak, veral as jy die vereistes van jou eie werk moet balanseer met teenstrydige na-skool skedules vir een of meer van jou kinders. Hier is 'n paar familie-leefstyl veranderinge wat jy kan maak om te verseker dat jou kind hul beste by die skool kan doen.  

EET SAAM MET DIE SEISOEN
Moeder Natuur is 'n slim dame - sy gee vir ons wat ons nodig het wanneer ons dit nodig het. Wanneer die mus-en-serp weer kop uitsteek, laai gerus jou trollie vol vars koejawels, mangos, lemoene, pere, pruime, papaja en appelliefies. Hierdie vrugte is dan in seisoen en is tot boordens toe vol van die vitamiene A en C wat kinders nodig het om weerstand op te bou teen verkoues, griep en ander infeksies. As jou kinders nie vreeslik gaande is oor vrugte nie, verpulp dit tot 'n gladdejantjie ('smoothie'). Gooi sommer 'n bietjie ekstra proteïen-poeier in en maak seker hulle drink 'n glasvol voor skool. Die laaste ding wat jy wil hê is dat 'n voorslepende verkoue of iets soos bronchitis hulle vir 'n hele tyd uit die skool hou en die akademiese waentjie laat ontspoor. 


MAAK ELKE DAG TYD VIR 'N GESELSIE
Die lewe raak baie besig en dis so maklik om sommer net in die aand op die bank neer te plof met 'n selfoon of tablet in die hand, of vir die TV te staar eerder as om met mekaar te gesels. As daar een ding is wat jy daagliks moet doen vir jou kind se welstand, is dit om tyd te maak vir ononderbroke kommunikasie. Eet saam as gesin aan tafel, of deel minstens 'n koppie tee. Vra uit oor hoe dit gaan by die skool; maak tyd vir 'n geselsie. Op hierdie manier sal jy vinnig agterkom as iets nie pluis is nie, voor dit 'n probleem raak.

BLY VOOR DIE TOETS-SKEDULE
Leer jou kind die waarde van vooruitbeplanning deur hulle te help om so te maak. In plaas daarvan om 'n drukpot van stres te veroorsaak net voor toets-seisoen begin, sit vooraf saam met hulle en stel 'n hersienningskedule op, en help hulle solank met hul opsommings. As jy nie self tyd het om so te maak nie, bied Studiemeester kwaliteit-leermateriale en aanlyn leerder-ondersteuning. Besoek hul webtuiste om meer te wete te kom oor hul handboek-opsommings, klastoespraak-skryfdieneste en taaknavorsingshulp.

Met hierdie riglyne in plek sal jou kinders 'n voorsprong geniet wanneer dit by hul akademiese werk kom in 2018. Hou gerus die blog in komende weke en maande dop vir meer raad oor hoe om jou kinders te ondersteun terwyl hulle leer. 


© 2018 Studiemeester - Alle regte voorbehou.  |  Privaatheidsbeleid  |  Vrywaringsklousule  |  Terme & Voorwaardes