Vir alle inligting met betrekking tot COVID-19, besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webblad by www.sacoronavirus.co.za
Screen Size

STUDIENUUS

HOE OM JOU OUERSKAP VARKIES OP HOK TE HOU TYDENS VAKANSIE

January 04, 2024
HOE OM JOU OUERSKAP VARKIES OP HOK TE HOU TYDENS VAKANSIE

Dis amper alweer daardie tyd van die jaar wanneer kinders holderstebolder feesvier oor hul vakansie-vryheid, en Suid-Afrikaanse ouers groen om die kiewe raak by die blote gedagte dat die einste kinders vir 6+ weke vermaak moet word. Ouers van Suid-Afrika, ons verstaan! Om jou kinders op 'n konstruktiewe wyse besig te hou kan nogal 'n veeleisende taak wees. Gelukkig het ons 'n paar wenke wat sal help om jou ouerskap varkies op hok te hou. 


KOM BIETJIE UIT DIE HUIS UIT
Dis baie belangrik om nou en dan uit die huis te kom om te voorkom dat jou kinders dit afbreek. Beplan gereelde uitstappies sodat almal kans kry om asem te haal. Nie alles hoef peperduur te wees nie. Jou kinders kan by voorbeeld meedoen aan aktiwiteite by 'n winkelsentrum soos Somerset Mall in die Wes-Kaap of Clearwater Mall in Gauteng. Hierdie inkopiesentrums allerlei vakansie-aktiwiteite aan oor die feesseisoen. Andersins kan jy altyd net die natuur in vaar. Trek daai tekkies aan, smeer sonskerm en vind 'n park of natuurreservaat naby jul huis of vakansiebestemming waar julle kan gaan stap of fietsry in die buitelug. 

WEES ‘N TOERIS IN JOU EIE STREEK
Maak hierdie jaar 'n punt daarvan om jouself soos 'n toeris te gedra in jou eie dorp, stad of streek. As jy in Kaapstad woon, gaan voer die robbe by die Waterfront of gaan klim Leeukop. In Durban is die Botaniese Tuine nommerpas vir 'n piekniek. Johannesburgers kan 'n draai gaan maak by Gold Reef City en Nelspruit-inwoners kan gerus weer 'n slag God's Window besoek. Doen daardie ding waarvoor almal na jou geweste kom, en waarvan mens so maklik self vergeet.

VIND UITSTAPPIES WAT ALMAL GENIET
Nie alles in jou lewe hoef 100% oor die kinders te gaan nie, so probeer om 'n paar aktiwiteite te vind wat julle as ouers ook sal geniet. Daar is byvoorbeeld deesdae trampolien-parke dwarsoor Suid-Afrika waaroor ouers net so gaande is as hul spruite. In die Wes-Kaap is daar weer 'n spul heerlike wynplase met doendinge vir die kinders, terwyl hul ouers 'n nuwe wyn of twee kan proe.

ONTKOPPEL VIR ‘N WYLE
Dit mag dalk klink soos tande trek, maar probeer hierdie vakansie om die kinders te oortuig om hul toestelle dan en wan opsy te sit. Skeduleer aangewese tegnologie-vrye tydgleuwe waarin julle saam kan tyd spandeer as 'n gesin. Julle kan bordspeletjies speel, musiek luister (of maak!), of in die agterplaas kamp met stokbrood en s'mores. Of maak sommer 'n lekker krismisbed in die leefkamer en hou 'n oorslaap-partytjie met spookstories en springmielies.

VIND TYD VIR JOUSELF
Dan moet jy ook onthou om dan en wan tyd vir jouself te neem oor die vakansie. Kry 'n oppasser, draai jou suster se arm of vra jou ma om na die kinders te kyk, sodat jy tyd kan spandeer saam met jou lewensmaat. Net omdat julle ouers is beteken dit nie julle is nie meer 'n paartjie nie. Koester dit en gaan verf die dorp rooi (of ten minste 'n ligte skakering van pienk). 

Geniet die komende vakansie. Ons sien julle vars en vrolik en reg om die die res van die akademiese jaar met mening aan te pak!  

© 2024 Studiemeester - Alle regte voorbehou.  |  Privaatheidsbeleid  |  Vrywaringsklousule  |  Terme & Voorwaardes