HOE OM 'N FEESTELIKE KERSSEISOEN TE GENIET SONDER KINDERS IN DIE PRENTJIE
February 13, 2023
Paartjies sonder kinders is lankal nie meer 'n vreemde verskynsel nie. Die planeet is redelik vol, daar is aardverwarming om in ag te neem, en mense voel nie meer die druk om na ander se pype te dans nie. In ons opinie is dit wonderlik. Aan die ander kant is skei ook nou meer algemeen, so daar is baie families waar die kinders een vakansie by die een ouer, en die daaropvolgende vakansie by die ander, spandeer. Dit vorm alles deel van ons moderne samelewing. Dinge verander, en ons pas aan.
Mens moet egter erken dat die kersseisoen sonder kinders in die prentjie 'n bietjie neurdrukkend kan wees. Of dit nou is omdat jy gekies het om nie kinders te hê nie of omdat jou kinders by jou vorige lewensmaat is oor die groot dae, die feesvieringe kan nogtans effens futloos wees.
Die boom, die geskenke, Vader Kersfees - dis alles grootliks vir die vreugde en genot van die kinders. Ja, jy kan 'n boom versier en die geskenke wat julle mekaar vir Kersfees gee toedraai en daaronder sit, maar dis nou nie juis die feestelike oorvloed wat ons almal in ons geestesoog sien wanneer ons 'Kersfees' hoor nie.
Gelukkig het ons 'n paar prettige idees om te verseker dat jy 'n feestelike kersseisoen geniet, selfs sonder kinders in die prentjie!
GAAN MAL MET DIE VERSIERINGS
Hoekom moet flikkerende liggies en tinsel net vir kinders wees? Goeiste - as jy hou van 'n bietjie kleur in jou lewe, voel vry om jou hele huis van die vloerlysies tot die dakbalke te versier. Dit sal jou gelukkig maak en enige gas wat jou oor die groot dae besoek sal deel in jou vreugde.
RAAK KREATIEF MET DIE GESKENKE
As jy en jou lewensmaat die vakansie alleen spandeer kan twee geskenke onder 'n boompie nogal hartseer vertoon. In plaas daarvan om onnodige geld te spandeer op verdere geskenke, draai 'n paar ander goed toe wat julle reeds in die huis het, met 'n kinkel in die kabel. Draai byvoorbeeld een van jou lewensmaat se gaar ou T-hemde toe met 'n uitnodiging om hulle te neem vir 'n latere inkopie-tog om 'n nuwe hemp te kies wat hulle pragtige voorkoms beklemtoon. Of gooi 'n paar lukrake bestanddele in 'n bruinpapiersak met die uitdaging om 'n nuwe dis daarmee aanmekaar te slaan.
GOOI JOU DEURE OOP
Dis glad nie nodig om eensaam in jou huis rond te dwaal oor die feesseisoen nie. Nooi al jou enkellopende vriende, ander kinderlose paartjies en daardie loslootjies wat om een of ander rede nêrens ander het om op Kersdag te wees nie. Hou 'n bring & braai of laat almal iets bydra tot 'n lekker informele ete.
MAAK GEREED VIR DIE JAAR WAT VOORLÊ
Kinderlose paartjies kan 'n wensbord saamstel wat al hul doelwitte vir die jaar op 'n visuele manier uiteensit, en dit dan op 'n opsigtelike plek in die huis aanbring om hulle deur die loop van die jaar te herinner wat hulle wil bereik. Ouers wie se kinders elders is vir die vakansie kan weer op hul beurt regmaak vir die besige jaar wat voorlê. Kry dinge in orde vir die akademiese jaar. As jy by voorbaat benoud is oor al die huiswerk waarmee jy jou kinders moet help wanneer jy van die werk af kom in die aand, oorweeg dit miskien om gebruik te maak van 'n huiswerkhulp-diens soos Studiemeester. Dis 'n wonderlike manier om te verseker dat die kinders se huiswerk behoorlik gedoen word, sonder om ektra druk op die huishouding te plaas.
Daar het jy dit - 'n paar prettige idees vir 'n Kersfees onder kinders. Gaan geniet nou die vakansie en onthou om lekker uit te rus. Ons glo 2018 gaan 'n wonderlike jaar wees, so kom ons maak die beste daarvan!