Vir alle inligting met betrekking tot COVID-19, besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webblad by www.sacoronavirus.co.za
Screen Size

STUDIENUUS

Hoe Om Jou Kind Voor Te Berei Vir Eksamen Sukses

January 04, 2024
Hoe Om Jou Kind Voor Te Berei Vir Eksamen Sukses

Die winterkoue raak nou 'n realiteit terwyl mens soggens regmaak vir skool en werk, en saam met dit kom daardie talmende, onderliggende o-griet-hier-kom-die-eksamen spanning wat sommer vinnig-vinnig almal in 'n huisgesin kan lamlê en frustreer. Hier is 'n paar maniere om toe te sien dat jou kind die eksamens te gemoed kan gaan sonder op hul varkies te verloor:  

BEPLAN, BEPLAN & BEPLAN NOG SO 'N BIETJIE  
Die mees eenvoudige en effektiewe manier om te keer dat eksamentyd in 'n stresvolle situasie ontaard is om daarvoor te beplan. Werk saam met jou kind om 'n hersiening-skedule op te stel, begin solank met daardie opsommings en formuleer 'n plan wat hulle sal toelaat om op hul eksamen-voorbereiding te fokus sonder om buitemuurse aktiwiteite, sosiale tyd of slaap in te boet. As jy nie self die kans het om jou kinders met opsommings te help nie, stel ons voor jy maak gebruik van Studiemeester se bekostigbare, moeitelose opsommingsdienste wat jou kind sal toerus met alles wat hulle nodig het om effektief te leer. 

KRY AL JOU EENDJIES IN 'N RY
Die klein jakkalsies steek die wingerd aan die brand, so maak seker almal het hul griepinentings, eet lekker gesond en daar is ‘n spasie in die geharwar van die dag waar jy jou kind in die oë kan kyk en seker maak alles loop mooi klopdisselboom op emosionele vlak. Dit gaan soms broekskeur met alles wat gedoen moet word, ons weet, maar dis veel makliker om jou vinger op die pols te hou van almal se gemoedstoestand as daar tyd gemaak word vir onverstoorde ouer-tot-kind interaksie. 

SKEP 'N STUDIE-VRIENDELIKE OMGEWING
Help jou kind om 'n studie-vriendelike omgewing te skep wat in hul smaak val. Spandeer 'n bietjie geld op 'n behoorlike stoel, ergonomiese tafel en goeie beligting. Afhangende van jou kind se leer-styl, mag hy/sy verkies om in absolute stilte te swot, die deur oop te hê sodat hulle die huis kan hoor 'beweeg', of selfs klipharde musiek te luister (dit werk vir sommige!). Help hulle om uit te pluis wat die beste werk en rig dan 'n spasie in waar hulle alles het wat nodig is om te studeer.

Hierdie is net 'n paar van die maniere wat jy kan help om jou kind voor te berei vir mid-jaar eksamen sukses. Onthou, die manier wat jy met jou kind kommunikeer word later geinternaliseer as hul binne-stem, so maak altyd seker dat jy hulle met die liefde, respek en onderskraging hanteer wat sal lei na volwasse selfversekerdheid. 

Kom loer binnekort weer op die blog vir nog advies oor hoe om 'n gelukkige, gesonde en stimulerende omgewing te skep by die huis, sodat jy kind kan floreer terwyl hulle ontwikkel in die sterk, bekwame volwassenes wat ons hoop hulle eendag sal wees. 

© 2024 Studiemeester - Alle regte voorbehou.  |  Privaatheidsbeleid  |  Vrywaringsklousule  |  Terme & Voorwaardes