INTERESSANTE VAKANSIE-PROJEKTE VIR SKOOLGAANDE KINDERS
February 13, 2023
Ah, dis amper skoolvakansie! So 'n wonderlike geleentheid om bietjie laat te slaap en luilekker uit te span op die bank. Ha! Grappie julle - as jy 'n ouer is, is vakansietyd normaalweg nog meer uitdagend as die res van die jaar, wanneer die kinders in 'n lekker roetine is met skool en buitemuurse aktiwiteite. Met 'n bietjie beplanning is daar egter wel maniere om jou kinders aan te moedig om hulself kontruktief besig te hou.
Hier is 'n paar voorbeelde van interessante projekte wat beide prettig en opvoedkundig kan wees:
ECOBRICK-UITDAGING
'n
Ecobrick is 'n handige manier om jou gesin se afval te verminder en jou kinders meer bewus te maak van herwinning. Daar is sekere afvalstowwe wat nie maklik herwinbaar is of in 'n kompos-eenheid gegooi mag word nie - items soos skans-sakkies (waarin los vrugte en groente verpak word), strokies en polistireen. 'n Eenvoudige manier om goeie gebruik te maak van hierdie materiale, eerder as om dit net in die drom te gooi en by te dra tot oorvol stortingsterreine, is om dit te kompakteer in 2L-koeldrankbottels. Hier is 'n
video wat wys hoe die proses werk. Sodra jou kinders 'n paar Ecobricks voltooi het, kan julle dit dan skenk by 'n aflaaipunt in jul omgewing (sien hierdie
webwerf vir nadere besonderhede). Of julle kan dit self gebruik om 'n grond-bankie in die tuin te prakseer.
Blink plan: As jy voel jou kinders het 'n bietjie aansporing nodig, kan jy hulle uitdaag om die Ecobricks te voltooi teen 'n gegewe prys, bv. R15 per eenheid. Maak net seker om 'n aanvaarde gewig aan 'n voltooide eenheid te koppel (verkieslik 500 g) sodat hulle jou nie om die bos kan lei met halfvoltooide Ecobricks nie. Op hierdie manier kan hulle dan spaar vir iets wat hulle wil koop, en hulle doen sommer 'n goeie daad op die koop toe! Wie weet, miskien raak hulle so betrokke by die idee dat hulle sommer afvalprodukte by die buurmense begin insamel.
NOG IDEES:
• Kook 'n maaltyd van meet af - vind die resep, gaan koop die bestanddele, doen die kookwerk, dek die tafel en sit aan as 'n familie.
• Vors jul stamboom na! Gebruik genealogiese bronne op die internet, of besoek die biblioteek om bronne te vind.
• Begin 'n
komposhoop! Selfs al woon julle in 'n woonstel of 'n huis sonder 'n erf, kan jy steeds eiehandig 'n woonstel-komposeenheid saamstel.
Geniet die res van die vakansie, en kom lees gerus binnekort weer om meer te wete te kom oor ouerskap in die moderne era.