Vir alle inligting met betrekking tot COVID-19, besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webblad by www.sacoronavirus.co.za
Screen Size

STUDIENUUS

Hoe word kinders deur die koronavirus beïnvloed?

February 25, 2021
Hoe word kinders deur die koronavirus beïnvloed?

Skole regoor die land is gesluit en baie ouers moet nou van die huis af werk en terselfdertyd verseker dat hulle kinders op datum bly met skoolwerk. Ongetwyfeld is hierdie tydperk oorweldigend vir baie mense. Een van die belangrikste dinge vir ouers om in die tyd te doen, is om hulself te vergewis van die feite rondom COVID-19 en kinders. 

Kan kinders COVID-19 kry? 
Daar is steeds baie onsekerheid oor COVID-19 – insluitend hoe dit kinders en swanger vroue beïnvloed. Maar volgens die finale verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is slegs 2,4% van alle COVID-19-gevalle kinders onder 18 jaar. En slegs 2,5% van die kinders wat wel siek geword het, was ernstig. Verder was net 0.2% van kinders se gevalle kritiek. Dus is dit baie onwaarskynlik dat kinders ernstig siek sal word. 

In Suid-Afrika is slegs 6,9% van die 6000+ gevalle onder 20 jarige ouderdom en is daar nog geen sterftes van kinders onder die ouderdom van 20 nie. 

Hoe word kinders deur die koronavirus beïnvloed? 
Met die winter om die draai is dit normaal dat kinders met ʼn loopneus en hoes opstaan en ouers moet nie met eerste teken van ‘n bedompige neus of nies  paniekerig raak nie. Maak seker jy weet wat die simptome van COVID-19 is. 

ʼn Uitgebreide nuwe studie oor COVID-19 in China bevestig dat infeksie van koronavirus minder ernstig by kinders is en bied ook ʼn duideliker prentjie van hoe die kinders deur die virus geraak word. Van die meer as 2000 kinders met die virus wat gevolg is, het die meeste slegs ligte simptome gehad, baie dieselfde as verkoue: koors, moegheid, hoes, loopneus en nies. Sommige kinders het egter geen koors gehad nie, maar het naarheid, braking, buikpyn en diarree ervaar.

Hoe kan ons kinders beskerm teen die Koronavirus? 
Dit kan moeilik wees om kinders te laat verstaan om hul hande te was nadat hulle buite gespeel het of voor etes. Maar nou is dit belangriker as ooit. Gereelde handewas bied noodsaaklike beskerming teen die Koronavirus, as dit korrek gedoen word.

Jonger kinders verstaan nie alles nie, so maak dit maklik en lekker. Sit ‘n stoeltjie voor die wasbak op en sing ‘n liedjie terwyl julle hande was: Gebruik seep en water, en was die hele hand, tussen die vingers en tot by die polse, vir ten minste 20 sekondes. Ouer kinders het miskien nie dieselfde afrigting nodig nie, maar hulle besef miskien nie hoe lank om te skrop nie. Droog julle hande deeglik na die was.

Wat is op die “Moenie” -lys nie? Moenie in jou neus krap, aan jou gesig vat of te naby aan ander kom nie. Dit is baie belangrik dat kinders van mekaar afstand moet hou. Onafhanklike aktiwiteite soos fietsry en bromponies of ‘n sokkerwedstryd speel, is veilig, maar pasop vir klimrame en speelgoed wat deur baie kinders hanteer word.

Artikel gekry op www.skole.co.za

© 2021 Studiemeester - Alle regte voorbehou.  |  Privaatheidsbeleid  |  Vrywaringsklousule  |  Terme & Voorwaardes