Vir alle inligting met betrekking tot COVID-19, besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webblad by www.sacoronavirus.co.za
Screen Size

STUDIENUUS

Hoe lyk ’n tipiese gebalanseerde kosblik? Waar begin ’n mens?

January 04, 2024
Hoe lyk ’n tipiese gebalanseerde kosblik? Waar begin ’n mens?

Begin by ’n proteïenbron. Dit is ons boublokke en is noodsaaklik vir die beheer van bloedsuikervlakke vir volgehoue energievlakke. Voeg nou die res by:  

’n Komplekse koolhidraatbron vir vesel. Dit sorg vir gesonde spysvertering asook bloedsuikerbalans. Daarom is lae GI- (glukemiese indeks-) kossoorte belangrik vir die stadige vrystelling van suiker wat ons liggame en breine nodig het vir brandstof – veral belangrik vir kinders. (Glukemiese indeks verwys na verskillende koolhidraatryke kossoorte, gebaseer op die uitwerking wat dit op die bloedsuiker -glukosevlak van die bloed). 

Groente en vrugte. Dit verskaf die nodige vitamiene en vesel. (Wenk: Sit ’n jogurtdoopsousie in ’n toe houertjie by sodat jou kind die groente- of vrugtestukkies daarin kan doop. Appelskyfies met grondboontjiebotter is ook lekker. Droë mango, appel, ens.). 

Dit kan uit groen groentes verkry word (bv. spinasie en brokkoli), maar indien jy ’n suiwelopsie verkies, dan is dit reg so. Wees net bedag op kinders wat dalk sensitief is vir, of sleg reageer op suiwel. Die meeste dieetkundiges raai ons aan om suiwel by ons diëte in te sluit om die nodige kalsium in te neem, maar hou in gedagte, kalsium kan ook uit talle ander bronne verkry word. 

Noodsaaklike vette en olies. Neute is ’n goeie keuse, maar let op die porsiegrootte. Maak ook seker die skool is nie ’n neutvrye sone nie, want ’n neutallergie kan dodelik wees. Fyngemaalde lynsaad gesprinkel oor Griekse jogurt – voeg kaneel of opgekapte appel of peer by vir natuurlike soetheid – is ’n maklike manier om hierdie groep by die dieet in te sluit.

Verkieslik water. Hoe gemaak met die kind wat nie hou van water nie? Probeer skyfies suurlemoen in hulle waterbottels – ander vrugte kan ook werk, soos ’n hand vol frambose of bloubessies. Party kinders hou ook van skyfies komkommer in hulle water. Of maak ystee met gegeurde kruie- of vrugteteesakkies of sommer net gewoon rooibos. Suiwer vrugtesap (sonder bygevoegde suiker) kan in klein hoeveelhede ingeneem word. ’n Goeie idee is om die sap met water te verdun.

Gekry op Afrikaans.com

© 2025 Studiemeester - Alle regte voorbehou.  |  Privaatheidsbeleid  |  Vrywaringsklousule  |  Terme & Voorwaardes