Hoe weet ek of my tiener berading benodig?
January 04, 2024
Tieners kan soms die lewe vir ’n mens baie moeilik maak, veral as jy hulle nie verstaan nie, maar dit is ook baie moeilik vir ’n tiener om te erken dat hulle hulp benodig. Hulle probeer probleme self oplos of hulle probeer dit wegsteek. Dit maak dit baie moeilik vir ouers om te bepaal wanneer hulle tiener werklik professionele hulp benodig en of dit slegs normale gedrag is.
Alicia Coertze, ’n spesialis berader in Pretoria, wat spesialiseer in tieners, studente en jong volwassenes gee raad:
Wat is die tekens waarna ouers moet uitkyk?
Tekens van oormatige bekommernis en stres
Onttrekking van familie en vriende
Onbeheersde optrede (“Acting-out”) (Dikwels tree tieners op in verskillende maniere om aandag te trek soos om weg te hardloop, seksueel onverantwoordelik of onvanpaste optrede, dwelm misbruik, alkohol misbruik, deel te neem aan onwettige aktiwiteite, ens.)
Swak akademiese prestasie ewe skielik
Selfbesering
Verandering in vriendskapsgroepe en aktiwiteite
Onvanpaste woede
Erge irritasie
Tekens van depressie (belangstelling verloor in goed wat hulle voorheen geniet het, hartseer, swak eetlus, ens.)
Uiterse lae selfbeeld
Maak opmerkings soos “Ek wens ek was nie hier nie” of “Niemand sal omgee as ek weg hardloop nie.”
Wat om te doen as jy vermoed jou tiener benodig berading.
Dit is belangrik om te besef dat daar meer goed steek agter jou tiener se “wangedrag” as wat jy op die oog af sien.
Die eerste gesprek wat jy met jou tiener het gaan die toon stel van hul houding teenoor terapie. Dit is moontlik dat jou tiener skaam kry om hulp te soek en dit is daarom baie belangrik as ouer om te vermy dat jy gevoelens van skaam en skuld toon.
Moenie bang wees om met jou tiener oor die onderwerp te gesels nie. Praat met hulle en maak hulle op ’n liefdevolle en kalm manier bewus van jou bekommernis. Miskien wil hulle met iemand anders as hul ouers praat. Onthou, berading is onsuksesvol as jou tiener forseer is om met iemand te praat en hulle is nie gereed of gewillig nie. Dit maak die beradingsproses baie moeiliker vir ’n berader of sielkundige omdat hulle net kan help so vêr soos wat die tiener hulle toelaat.
Berading kan baie behulpsaam wees vir jou tiener nie net vir die groot goed nie, maar ook vir die klein goedjies soos stresbestuur, tydsbestuur, die bestuur van emosies en hulle reis van selfontdekking.
Deur Emsie Martin