Hoe om ’n sensitiewe kind te hanteer
January 04, 2024
'n Sensitiewe kind kan uiteindelik ʼn blywende en skadelike gevoel van skaamte ontwikkel omdat hy na sy mening tekort skiet in vergelyking met sy meer ekstroverte maats of sibbe. Die onderstaande wenke kan van hulp wees vir jou as ouer asook vir ander volwassenes in jou kind se lewe en help om te voorkom dat hierdie onnodige gevoel van sensitiwiteit wortel skiet.
Erken en aanvaar dat jou kind se belewenis van die wêreld vir hom ʼn werklikheid is. Sê vir hom jy verstaan dat sekere dinge vir hom moeilik is. Aanvaar en glo dat hy nie voorgee dat hy bang, skaam, angstig of geïrriteerd nie. Hy tree nie so op om jou te manipuleer of aandag te trek nie. In plaas van om toe te laat dat sy gedrag jou ontstel, irriteer of frustreer, aanvaar jou kind soos hy is en fokus op die positiewe elemente van sy persoonlikheid.
Ag jou kind na waarde en verseker hom dat hy nie eienaardig is nie. Sensitiewe kinders besef dat hul ‘anders’ as hul maats of sibbe is. Verseker hom dat daar baie ander mense soos hy is en dat julle hom lief het nes hy is. Wanneer hy in homself twyfel oor ʼn sogenaamde ‘mislukking,’ beklemtoon dat ʼn enkele insident nie ʼn lewenswyse is en van hom ʼn mislukking maak nie. Erken sy teleurstelling, herinner hom aan vorige suksesse en moedig hom aan om weer te probeer – dalk hierdie keer in iets wat hy geniet.
Beskerm en ondersteun jou kind. Om sy selfvertroue in ʼn vreemde situasie ʼn hupstoot te gee, moedig hom aan die uitdaging tree vir tree aan te durf en sodoende sy vrees te oorwin, eerder as om hom vir die leeus te gooi deur druk op hom uit te oefen. Stel hom gerus dat jy daar is om hom te ‘vang as hy val’ en dat jy hom nooit sal dwing om iets teen sy sin te doen nie, of om hom buite die grense van sy gemaksone te forseer nie. Deur hom te dwing om sy vrees te oorkom, sal net ʼn negatiewe uitwerking hê. Beskerm hom ook teen ander volwassenes en kinders wat hom wil dwing om iets te doen waarvoor hy nie gereed voel nie. Ondersteun hom in elke nuwe uitdaging wat hy kans sien om aan te durf.
ʼn Stadiger pas, voorspelbaarheid en roetine – dis waarop hy floreer. Skep geleentheid vir ʼn blaaskans en emosionele ontlading na blootstelling aan ʼn intens emosionele ervaring of aan te veel eksterne fisiese stimuli. Laat hom byvoorbeeld toe om na skool rustig in sy kamer te speel of te lees, of na kalmerende musiek te luister voor hy huiswerk moet doen. Berei hom vroegtydig voor op vreemde en nuwe situasies en ervarings of wanneer julle genoodsaak is om plekke te besoek wat hy sal wil vermy.
Wees geduldig, al frustreer dit jou omdat jy voel dat al die dinge wat jou sensitiewe kind nie kan of wil doen nie, nie net sy lewe nie maar ook jou lewe inperk. Moenie ontsteld raak omdat jy meen dat hy weens sy oorsensitiwiteit lekker dinge misloop nie. Sy idee van pret verskil hemelsbreed van joune en van die van ander kinders. Waak teen kritiek of ongeduld wanneer hy ʼn flater begaan of in ʼn uitdagende situasie angstig is. Onthou, jou sensitiewe kind is baie selfkrities – jou kritiek en ongeduld sal hom net meer laat ineenkrimp en moontlike waagmoed in die toekoms inhibeer.
Om fisiese stimuli te voorkom, probeer waar moontlik, om raserige plekke en situasies te vermy waar sy sintuie oorstimuleer word. Wanneer een ouer inkopies gaan doen, los hom by die ander ouer, ʼn vriendin of familielid. Laat hom eerder by ʼn buite-speelplek speel waar daar meer ruimte en minder mense is as by ʼn binnenshuise speelplek waar daar baie kinders en baie lawaai is. Maak seker dat sy klere gemaklik is en moenie hom dwing om kos te eet met teksture waarin hy weersin het nie.
Ten slotte
Dis nie nodig dat al die genoemde tekens by jou kind moet voorkom alvorens hy as sensitief beskou kan word nie. Slegs enkeles hiervan behoort voldoende aanduiding vir jou te wees dat jou kind ʼn sensitiewe geaardheid het en dat jy as ouer soos hierbo moet reageer om die lewe vir hom makliker te maak. Verkeerde, misplaaste en onsensitiewe optrede deur volwassenes kan groter skade aanrig en jou kind nog meer in sy dop laat kruip.
Onthou, sensitiwiteit is nie ʼn skande nie, dis maar net ʼn unieke tipe persoonlikheid, soos om ʼn ekstrovert te wees. Hoewel dit ʼn uitdaging vir jou as ouer kan wees, kan sensitiewe kinders die gaafste, mees liefdevolle omgeekinders wees wat jy ooit sal teëkom. Geniet jou spesiale kind.
Deur Melodie Veldhuizen