Vir alle inligting met betrekking tot COVID-19, besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webblad by www.sacoronavirus.co.za
Screen Size

STUDIENUUS

5 Wenke vir tieners wat sukkel met openbare redevoering

January 04, 2024
5 Wenke vir tieners wat sukkel met openbare redevoering

Openbare redevoering of, in alledaagse taal, om voor mense te praat, is genoeg om selfs 'n volwassene se broek te laat bewe. Tieners wat hiermee sukkel kan baie angstig raak wanneer hulle on mondeling moet doen, of in enige kapasiteit voor 'n gehoor moet praat. Daar is gelukkig 'n paar effektiewer maniere om hierdie angstigheid aan te spreek. 

1. Wees voorbereid
Die eerste en mees belangrike ding wat jy kan doen is om so goed as moontlik voor te berei. Wees seker van wat jy wil oordra en hoe jy dit wil doen. Oefen jou toespraak so veel as moontlik sodat jy nie van notas afhanklik hoef te wees nie. Hoe beter jy die inhoud ken, hoe makliker sal dit wees om oor te dra.

2. Organiseer jou inhoud
'n Toespraak van enige aard is baie makliker om te maak as daar 'n logiese vloei van inligting is. Begin met 'n inleiding, beweeg aan deur jou hoofpunte te maak, en rond dit af met 'n bondige opsomming. Hierdie uiteensetting help ook jou gehoor om tred te hou met die inligting wat jy oordra. 

3. Kyk hoe ander dit doen
Leer by die beste. TED Talks is 'n wonderlike bron van inspirasie – gaan kyk 'n paar video’s oor 'n onderwerp wat jou interesseer en let op hoe die sprekers hulself op die verhoog 'gedra'. Sit hulle, staan hulle, loop hulle rond? Gebruik hulle hande-taal om belangrike punte te benadruk. Vind sprekers wat tot jou spreek, en gebruik hul optrede om jou eie te inspireer. 

4. Vra jou onderwyser om hulp
As jy ongelooflik angstig voel elke keer wat jy voor jou klasmaats, of 'n ander gehoor, moet praat, spreek dit aan met jou onderwyser. Hulle sal jou kan bystaan en help om dit prakties aan te spreek. Jy kan dalk by voorbeeld jou mondeling of toespraak vooraf in die klaskamer oefen gedurende pouse of 'n vry periode om aan die spasie gewoond te raak. Jou onnie is daar om jou te help en het baie ervaring op die gebied, so vra hulle om hulp as dinge moeilik raak. 

5. Soek 'n vriendelike gesig
Indien moontlik, vind 'n vriendelike gesig om op te fokus in jou gehoor. As jy moet mondeling praat in die klas, maak oogkontak met 'n vriend of vriendin wat jy vooraf kan vra om jou bietjie ondersteuning te bied met 'n 'thumbs up' of 'n oogwink. Dit help baie as daar positiewe terugvoer is terwyl jy praat. 

© 2024 Studiemeester - Alle regte voorbehou.  |  Privaatheidsbeleid  |  Vrywaringsklousule  |  Terme & Voorwaardes